Ons boere(hoof)meise se brûebrandery

Sunette Bridges en die “familie” vir wie ons skaam kry

By my groot-oupa Piet se begrafnis sit daar so blonde krulkopvrou in die banke voor ons.  Sy het ’n rooi rok aan wat deur haar boobs bogehou word.  Ek dink eers dis my verbeelding, maar by die tee op die plot in Muldersdrif anderkant Krugersdorp is sy sowaar weer.  Patricia Lewis.

Aangetroude familie, vind ek later uit.  Verlangs, gelukkig.  [Sjuut, moet vir niemand sê nie.  Hierdie vernederende inligting bewaar ek soos Zuma sy spy tapes.]

Soortgelyke nuus kry ek gister toe ’n goeie vriendin [wat graag anoniem gaan bly, of sy nou wil of nie] vir my vertel dat sy en Sunette Bridges familie is.  Dit kom nadat ’n rassisme-klag weer soos ’n stinkbom in ’n skoolsaal oor die arme Sunette uitgesak het.

Die berugte dogter van Bles Bridges is nie ’n rassis nie.  Daar is dan foto’s waar sy by die Abraham Kriel-kinderhuis op Nylstroom vir al die kinders sing, nie net die wittes nie.  (Of is hulle dalk per ongeluk in die agtergrond?  Tant Cecile Janse Volschenk, lid van haar Facebook-boerebende, comment egter deur te sê “skies ek vra maar is daar nog kinderhuise wat slegs wit is?”)

Maar Google kan tog nie lieg nie, kan dit?  Tik mens haar naam is, is die koerantargiewe propvol stories waarin ons voortrekker hoofmeisie van rassisme beskuldig word.  Die jongste storie, dat sy nie vir ’n swart kind lekkergoed wou gee nie en geweier het om hom, soos die ander (wit) kinders te omhels, word nou toegeskryf aan ’n wraaksugtig iemand wat as <gesensor> bekend staan.  Klink baie soos “jou ma”, dink julle nie?  ’n E-pos, blykbaar vervals om te lyk asof dit uit Sunette se sleutelbord kom, kompleet met ’n baie lelike woord en spelfoute, is deur Sunette op haar Facebook-blad geplaas en in Sondag se Rapport aangehaal:

 jy Jomammatjie, het ‘n groot fout gemaak! Ek het vir jou lankal gese wat my mening oor kaffers is en jy het een gaan aanneem. Ek skaam my vir jou en daarom sal ek jou treiter tot jy nie meer kan nie – ek wat soveel omgee vir my mense sal toesien dat jy breek oor jou volks verraad.

Uiteraard boer Sondagkoerante met skindernuus, en wat is meer sensasioneel as ’n mediocre Afrikaanse sangeressie wat van “kaffers” praat en nie kan spel nie?  Haar ondersteuners, en daar is sowat 11,000 mense wat reeds die blad die duim gegee het, meen dat sy moed moet hou, want “die hoogste bome vang die meeste wind”.  Hiermee stem ek nie saam nie.  Hoogste boom in die Afrikaanse kwekery, ja.  En ook maar net omdat Steve Hofmeyr ’n stuik is.

Ene Izak van Zyl, wat ook op die blad kommentaar lewer, meen dat hy ’n “uiters objektiewe persoon” is en sien dat sy “redelik aanhang het onder openlike en regte rassiste”.  Hy het ’n probleem met die feit dat Sunette Bridges hierdie kommentaar nie afkeer nie.  (Gaan lees gerus as jy verveeld is, maar wees gewaarsku, die mense is gemeen en hul spelling maak die oë seer.)  Met hóm stem ek saam.  Ek dink Sunette Bridges is ‘n selfaangestelde Afrikaner-doemprofeet wat al ons mense se slegte ervarings (en daar is slegte ervarings, ek weet) versamel en die “BARBARE” (in hoofletters, ja) blameer.  Tog hou sy vol dat die beskuldigings van rassisme teen haar “pateties” is.

Dit herinner my aan al daardie mense wat sê “ek is nie ’n rassis nie, maar…”.  Wat gewoonlik op die “maar” volg, is blatante bewyse dat hulle ’n intense afkeer in ’n ras anders as hul eie het, in my opinie die woordeboekdefinisie van dit wat hulle “nie is nie”.  Behalwe vir die f-woord, het Afrikaans nóg ’n verskriklike v-woord:  volk.  Is dit nie hierdie vier letter woordjie wat soveel kak veroorsaak het nie?  Is dit nie uit hierdie woord dat die ander lelike k-woord gebore is, juis om die heidene van die “Christelike Volk” te onderskei nie?

Uiteindelik besef ek dat ek deel is van hierdie volk, of ek nou wil of nie.  Dat ook ek ’n Afrikaner is.  En dis OK om deel van hierdie familie te wees, want ons het maar almal familie vir wie ons skaamkry.  Ons volk [ek ril skoon as ek dié woord gebruik] moet liefs die tou en twee blikkies neersit en ophou om net met mekaar telefoontjie te speel.  Wees eerder brugbouers tussen al die nasies in ons land.

Rassisme is nou maar daardie een –isme wat nooit gaan uitsterf nie.  Soos die armes gaan die rassiste ook altyd by ons wees.  Ek het wel ’n groter probleem met die “maar”-rassiste as wat ek met mense het wat eerlik oor hul ras-gevoelens is.  Vir die hele spul van julle het ek hierdie raad:  Trek Antarktika toe, dis mooi wit daar.  Ek dink Sunette Burning Bridges sal pragtig lyk as sy haar voortrekkerkappie mooi styf teen die koue vasbind en vir die kindertjies Kumbaja kan sing.  Maar nie vir die pikkewyne nie – hulle is te swart vir haar smaak.